JF OESTER

JF TOER – ‘n REIS VOL HERINNERINGE

Nov 28, 2025

Berig Deur Paula Swart

Elke jaar sien Hoërskool Jim Fouché se leerders uit na die JF-toer wat jaarliks in die September-/Oktobervakansie plaasvind, maar wat maak die toer so opwindend dat die leerders nie kan wag om op die bus te klim en in die pad te val nie?

Dié jaar is daar na Gauteng getoer, en daar was nie een enkele slegte oomblik nie. Speletjies op die pad het almal vir ure besig gehou, en die gelag en gesels het nooit gestop nie.

Die eerste dag was by die Apartheidsmuseum, waar ‘n toergids ons deur die museum gelei het. (Dis die plek om te wees as jy van geskiedenis hou.)

Die tweede dag is waar die avontuur begin het …”Say cheese!” want nou bevind jy jouself by Van Gaalen Kaasmakerij. Wou jy al ooit gesien het hoe kaas gemaak word, of altans hoe baie soorte kaas daar is? Op dié toer het die leerders dit beleef en reuke geruik wat jou asems weggeslaan het!

“Dis hier waar jy wil wees, die plek het lekker gees. Hier kuier ons – oud en jonk. Hier leef ons almal saam, en as jou oë wil traan, is Pretville net die plek vir jou!”

Pretville was die volgende bestemming en die liedjie is nie verkeerd nie, want die JF-leerders het hul tyd hier gate uit geniet. Foto’s vir die Instagram-profiele was natuurlik aan die orde van die dag.

Die derde dag was ’n uitstappie na die Voortrekker-monument op die spyskaart … en ook oefening vir die bene met al daardie trappe (nooit sal daar weer gekla word oor die trappe by die skool nie). Stories oor die geskiedenis terwyl jy na die prentjies kyk wat in die mure gekerf is, laat jou voel asof jy self daar was. Hierdie besoek het gevoelens van ’n vreemde nostalgie na ’n tyd wat ons nie ken nie, in die leerders se hart opgewek.

Dag vier was beslis die hoogtepunt, want dit was tyd vir SUN CITY! ’n Hele dag vol pret wat net nie moes eindig nie, maar die son het gesak en harte het warm geklop.

Die laaste dag het aangebreek met een laaste avontuur by die Cradle of Humankind waar die leerders geleer het oor die evolusie van die mens en al die elemente wat jy in die natuur nodig het. Upside Down House was die laaste stop, en gedisoriënteerd het ons besef dat om om onderste bo te lewe glad nie ‘n grap is nie.

So het die JF-toer vir 2025 ook geëindig – vol lag en voete wat moeg gestap was, maar bo alles harte wat die mooi herinneringe nooit sal vergeet nie!

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF Jan 22, 2026

2026: Hier gaat ons al weer!

"Dit begin baie rustig en dit eindig baie rof; jy moet huil in die middel en dan moet jy ontplof!” En dit is, in die woorde van Robbie Wessels, hoe dié jaar hier by Hoërskool Jim Fouché begin!

Oester KAF Jan 15, 2026

Deur die lens: JP Crous

Daar is baie min woorde wat kan beskryf hoe dit voel wanneer die Here jou in ’n posisie plaas wat mense gesê het jy nie sal kan doen nie!