Al het die reëndruppels buite geval, het dit nie die brandende gees van Hoërskool Jim Fouché se Vat Vlam-aand geblus nie. Met sambrele, opgewondenheid en talente wat jou laat glimlag, was dit werklik ’n uitsonderlike aand vol energie en kreatiwiteit. Die leerders het van die eerste oomblik af die atmosfeer met hul geesdrif aangesteek, en elke hoek van die skoolterrein het weerklink van ’n gelag, gesels en die sagte plons van die reën op sambrele.
Die aand het afgeskop met ons eie sangers, Abi, Josua, Khanyisile, en Nellmari en Waldo met ‘n duet, wat elk hul talente kom vertoon het en die gehoor met hul stemme en kreatiwiteit beïndruk het.
Daarna het Albert Smith, oud-JF-leerder, die verhoog kom opwarm met ’n paar van die gehoor se gunstelinge. Hy het selfs vir mnr. Wilken bygestaan met die lootjietrekking, waar ’n paar gelukkige wenners heerlike pryse gewen het. Die skares se opgewondenheid was aansteeklik, en die lag en gesels van die leerders het die aand vol warmte gemaak.
Eensklaps het die aand tot by die groot hoogtepunt gekom: Barto Swiegers, en het hy die gehoor betower toe hy begin sing het! Self in die reën het leerders teen die verhoog gestaan, hulle oë blink van entoesiasme, en hande wat klap op die ritme van sy stem. Barto se energie was aansteeklik, en elke persoon in die skare het daardie gees weerspieël, wat die aand ’n onvergeetlike ervaring gemaak het vir almal wat daar was. Die reën het nie net die atmosfeer verfris nie, maar die magiese gevoel van saamwees, talente en feestelikheid net versterk.
Toe die laaste note van musiek wegsterf, het die leerders steeds gelag en gesels. Die reën het stadig opgehou, maar die warmte en energie van die aand het aangehou straal, asof die gees van Vat Vlam self in die lug hang. Van die eerste sang tot Barto se magiese optrede, het elke oomblik herinner aan die ongelooflike talente en passie wat Hoërskool Jim Fouché se leerders dra. Dit was nie net ’n aand van talente nie, maar ’n viering van saamwees, kreatiwiteit en die onvergeetlike gees wat hierdie skool so besonders maak.



0 Comments