Kleur, gees en atmosfeer is een van die vele dinge wat ons as ’n JF-gemeenskap weet hoe om spontaan te skep.
Op 24 Januarie 2025 het Hoërskool Jim Fouché hulle jaarlikse kleureatletiek gehad, maar hierdie jaar was beslis nie soos al die vorige jare nie, hierdie een was… Uniek.
Wit span teen Groen span, wie vat die kroon? Hoogspring, verspring, spiesgooi en gewigstoot is maar net ’n paar van die items waaraan die JF’ers kon deelneem. Hierdie middag/aand was besonders, want leerders het nie net deelgeneem om ’n eerste, tweede of derde plek te kry nie, maar sommer net vir die pret daarvan.
Dogters wat aantree by die wegspringpunt wat arms inhaak en sommer saam huppel, het ’n warm gevoel in jou hart geskep. Ouers wat langs die veld staan met die grootste trots en liefde in hul hart, maak van JF die skool wat dit is.
Kom ons vergeet nie van die hoofsaak nie: Die gees. Alhoewel die dag gegaan het oor wit teenoor groen, het die leerders van JF hulle gesin steeds gewys wat dit beteken om saam te staan. Die oomblik wat “Sweet Caroline” begin speel, weet die leerders dit is tyd om in te haak en uit volle bors saam te sing asof hierdie lied ons volkslied is – natuurlik met die JF-twist.
Soos die aand einde se kant toe staan en die punte op die wit bord begin verskyn het, sien jy net meneer Wilken en juffrou Koekemoer se gesigte raak skoon bleek, want hulle weet wat kom vir een van hulle. Wie gaan hierdie jaar die geesbeker vat? Vlamme brand en vonke skiet van die braaiers langs die veld, en terwyl die leerders lekker geesvang en aan die velditems deelneem, braai die ouers ’n lekker vleisie op die kole.
Met elke sekonde wat verbytik, word die spanning meer. Die onderwyser wie se span verloor, gaan ook nie net natgegooi word met water nie, maar gaan gesmeer word met geklopte room in die gesig.
Die tyd het aangebreek, wie gaan wen? Hierdie is ‘n naelbytoomblik vir almal, die kinders, ouers en dan natuurlik meneer Wilken en juffrou Koekemoer. 3… 2… 1…
Die wen span is…
DIE WIT SPAN!
Voor die aand behoorlik verby is en die naweek begin, staan die JF-leerders vir oulaas saam vir die ikoniese JF-kreet. Wat ‘n wonderlike manier om hierdie aand af te sluit as ’n JF-gemeenskap.
0 Comments