Stel jou voor: Die fluitjie blaas. Die telling is gelykop. Die skare hou hul asems op. Dan, in daardie laaste oomblik, gee die span hulle alles – nie vir hulself nie, maar vir mekaar, vir die skool, vir iets groter. Dít is lojaliteit.
By Hoërskool Jim Fouché is lojaliteit nie net ’n mooi woord wat ons in ’n handboek lees nie. Dit is iets wat ons daagliks leef. Dit is die vriend wat jou rug het, die onderwyser wat jou motiveer, die skare wat skree: “Komaan, JF!”
Natuurlik kry jy verskillende aspekte van lojaliteit: lojaliteit teenoor jou skool, wat beteken om na daai wedstryd wat jy en jou span verloor het, nog steeds met die grootste trots en respek jou baadjie te dra. Akademiese lojaliteit: Dit beteken om getrou te bly aan jou harde werk; nie net vir jou skool nie, maar om jouself te ontwikkel en jou doelwitte te bereik.
Maar lojaliteit gaan nie net oor prestasies nie – dit gaan ook oor karakter. Dit wys in die manier waarop ons mekaar met respek behandel, eerlik bly in moeilike tye en opstaan vir wat reg is. Dit is die vriend wat vir jou opstaan, die klasmaat wat nie skinder nie, en die JF-leerder wat altyd sy skool met trots verteenwoordig.
Tydens Waardeweek word ons daaraan herinner dat lojaliteit nie net ’n woord is nie, maar ’n leefwyse. Dit is dit wat Hoërskool Jim Fouché ’n skool maak waarop ons trots kan wees! Want as jy een maal ’n JF-leerder is, is jy vir altyd een.
0 Comments