Graad 7’s beleef ’n dag vol pret, lawaai en verrassings
Op 13 Maart 2026 het Hoërskool Jim Fouché lewendig geword, toe Graad 7-leerders van verskillende skole ingestroom het vir die jaarlikse Opedag. Van die oomblik wat hulle deur die hek gestap het, kon ’n mens die opgewondenheid aanvoel.
Elke leerder het ’n kleurvolle JF- ”bucket hat” gekry – en sommer dadelik het die skool vol kleur en energie gelyk. Terwyl hulle deur die skool gestap het, het hulle nuwe dinge ontdek, en ’n voorsmakie gekry van hoe hoërskool regtig voel.
Op die pawiljoen het die Graad 8’s en 9’s die gaste met groot gees verwelkom, maar die regte energie het in die saal losgebars. Teambo het die atmosfeer opgekikker en die Graad 7’s aan die beweeg en juig gekry. Die saal was vol lawaai, lag en opgewondenheid.
Die vertoning wat gevolg het, het beslis nie teleurgestel nie. Leerders het hul talente gewys in sport en kultuur, en dit het gewys hoe baie daar by JF is om van deel te wees. ’n Wetenskap-eksperiment het almal laat stil raak – dit was effens skrikwekkend, maar ongelooflik om te sien, en het groot reaksie uit die skare gekry.
Die dag was vinnig verby, maar die energie en herinneringe sal nog lank bly. Vir baie Graad 7’s was dit die begin van iets nuuts – en dalk die eerste tree om deel te word van die JF-familie.



0 Comments