JF OESTER

‘n Lekker ‘lang’ naweek – Ja, net hier by die skool.

Feb 4, 2026

Die gr. 8’s is op 18 Januarie 2026 al om 05:00 op ‘n Saterdagoggend voor die skool se hekke afgelaai om ’n lekker naweek saam met hul voogde en die res van die VRL-lede te geniet. Ná drie volle dae se gesing en dans voor die matrieks, en die Vrydagaand se laatnagsokkie, was die kleintjies nou nie juis lus vir nóg avontuur nie, maar wie sal nou wil “nee” sê vir ‘n naweek wat die VRL gereël het? Hoe moeg jy ook al is!

Die Saterdagoggend het begin met lofprysing en aanbidding, en toe ‘n lekker dansie om die sirkulêre stelsel aan die gang te kry. Daarna het ‘n opening en bekendstelling van die JFFJ gevolg. Die Akkers het toe ingespring om te verseker dat hulle hulself ordentlik wakker dans, en met ‘n los lyf kon die sixers hul ontbyt geniet voordat hulle na die velde moes beweeg vir “ordentlike” speletjies.

Om ‘n speelkaart met jou mond van een maatjie na die ander met behulp van stroop aan te gee, is nie noodwendig almal se idee van ’n aangename ysbreker nie, maar om op ‘n nat en seepgladde seil rond te tol, is wel vele sixers se idee van vet pret!

Ongelukkig is die gesiggies bloedrooi gebrand, want tussen die pret deur was daar net nie tyd om sonskerm aan te wend voor die swembad ingevaar is nie! Die res van die Saterdag is byna die heeldag gewy aan die oefen van die klasdansies – niemand wil immers hul naam ruk by die sottekonsert nie. (Hoewel ons almal weet dat dit die eintlike doel is.) Gou-gou was die dag (en ook die konsert) verby, en moeg, maar tevrede kon JF se nuwelinge hul oë gaan toemaak – ook net tot die volgende oggend se kerkdiens in die skoolsaal, dié keer om gevoed te word met die Woord van God.

Na ‘n hartroerende diens was die graad aggies gereed vir die jaar vol opwinding wat voor hulle uitgestrek lê, en kon hulle nog dieselfde Maandag die skool soos regte JF’ers betree en ‘n baadjieseremonie bywoon wat spesiaal net vir hulle gereël is. En so het elke graad aggie besef dat JF meer is as net ‘n skool is; dis ‘n tuiste, ‘n leefwyse en ‘n veilige hawe.

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF May 29, 2026

Die Big Brag

Die jaarlikse Big Brag was weereens ’n besonderse hoogtepunt op JF se kalender. ’n Dag gevul met trots, opgewondenheid en ware JF-gees.

Oester Kultuur May 25, 2026

Gelykop

Classic Clash — ’n mens dink altyd net aan die rugby-, hokkie- en netbaluitslae, maar aan skaak dink ’n mens nie dikwels nie.

Oester Kultuur May 18, 2026

Doornkloof

Terwyl die meeste JF-leerders op toer was en ander maar net lekker hul April-vakansie geniet het, het die Voortrekkers op Doornkloof gaan kamp.