-Die stilte voor die storm.
Daar was lag, son en water, maar ook iets anders in die lug. Tydens ’n ontspanne matriekkuier aan die einde van die vakansie en aan die begin van die nuwe skooljaar, het dit eers begin insink: Dit is matriek, en dit is nóú. Tussen die gesels en die geswem, was daar oomblikke van die skielike besef: “Ek kan nie glo ons is al matriek nie.” Dit was kalm, betekenisvolle oomblikke – die spreekwoordelike stilte voor die storm van toetse, afskeide en laaste herinneringe.
Terwyl sommige matrieks in die swembad afgekoel het, het ander langs die kant gesit en gesels, nie net oor die vakansie nie, maar ook oor die jaar wat vir elkeen voorlê: die sport, kultuur en natuurlik die druk van die akademie. Die besef van die laaste jaar het stadig maar seker by elkeen van die leerders ingesink. Tussen al die grappies en herinneringe lê die realiteit van die skooljaar wat oor twee dae sou aanbreek.
Later, toe die vuurtjie aangesteek word en almal nader skuif, het die atmosfeer verander. Die geselskap het stiller en die gesprekke dieper geword. Daar is gepraat oor hoe vinnig die jare verby is, oor ou vriendskappe wat oor tyd gegroei het, en oor hoe vreemd dit voel om te dink dat elke geleentheid en elke hoërskoolavontuur nou stilletjies tot ’n einde sou kom.Tog was daar steeds opgewondenheid – ‘n gevoel van trots en afwagting en vasberadenheid vir dit wat voorlê.
Hierdie kuier het vir baie matrieks ‘n oomblik van heldere insig gebring: Die laaste jaar het amptelik begin. Met nuwe herinneringe, ou vriendskappe, nuwe vriendskappe en ‘n matriekjaar wat wag, stap ons nou sáám vorentoe. Gereed vir alles wat hierdie jaar na ons kant toe gegooi gaan word.



0 Comments