Dramatiese Kunste… Vir baie van ons graadagts en -neges was hierdie verpligte vak net dit: ’n verpligting, teen ons wil boonop, maar wat as ek vir jou sê dat drama eintlik eendag jou vriend sal wees, of jy nou op die kassie gaan verskyn of nie?
Ons almal ken daardie al te bekende angsgevoel wanneer jy voor mense moet praat, en drama is net die regte medisyne hiervoor – dit bou jou selfvertroue, selfbeeld én jou vermoë om voor mense te praat en te sing.
Drama het beslis iets vir almal. Stel jy daarin belang om meer oor Griekse mitologie, Shakespeare, Middeleeuse teater of selfs die Renaissance teater te leer? Kom dan dramaklas toe. Wil jy meer weet oor verskillende kulture oor verskillende dekades? Dan is drama die antwoord. Wil jy leer oor lyftaal, improvisasie en karakterbeelding? Ja, jy het reg geraai – DRAMA.
In die alledaagse lewe kom al hierdie aspekte gereeld na vore, en dus kan jou drama-agtergrond jou help om mense beter te verstaan.
Dié vak sal vir jou ook die weg na vele beroepe baan en jou boonop help om te floreer, as onder andere skrywer, akteur, onderwyser, regisseur, choreograaf, kostuumontwerper en nog BAIE ander.
Gaan van ’n skaam introvert met kommunikasieprobleme na iemand wat die lewe Carpe Diem en nie bang is om gehoor te word nie!
So hoekom drama?
Hoekom Nie!
0 Comments