Die Voortrekkers het op 27 Junie vanaf Shell Ultra City met vier groot busse na Mosselbaai vertrek en ongeveer 15:00 daar gearriveer. Die kamp is afgeskop met ’n strandoriëntasie, en die divisies en reëls vir die week is verduidelik.
Die hoogtepunt van die kamp was die duine by Kanon. Hier het die voortrekkers het hulle eie skuilings opgerig en self vuur gemaak. Maar wat was op die spyskaart vir aandete? Natuurlik die vis wat hulle sélf moes vang en voorberei. Dit het die Voortrekkers se spanwerk en deursettingsvermoë op die proef gestel, maar hulle het dit maklik laat lyk!
Die Voortrekkers het ook die musiekfees by die Mosselbaai-hawe ervaar – beslis ook ’n kamphoogtepunt en ’n goeie wegbreek van oorlewing.
Deur die week is verskeie aktiwiteite aangepak, waarvan baie in voorbereiding vir die duinekamp was, byvoorbeeld om skuilings te bou, en om sekere oorlewingsvaardighede aan te leer. Noodhulpoefeninge het ook deel gevorm van hierdie opleiding. Die Voortrekkers is ook verryk met ’n natuurbewaringsles, waarna hulle hulle kennis op die proef moes stel in ’n vinnige oorlewingstoets. Sondag het almal natuurlik ’n kerkdiens bygewoon wat deur ds. Dean gelei is.
Uiteindelik is daar na Bloemfontein teruggekeer. Dit was ’n bittersoet einde — hulle moes totsiens sê vir die vriende wat hulle gemaak het, maar hulle het weggeloop met nuwe herinneringe en vaardighede!



0 Comments