Dit begin by een stemboodskap, en een nommer. Maar dit eindig by een storie wat jou hart op die beste moontlike manier gaan breek. Voicemails for Isabelle – die fliek wat almal minstens een keer behoort te kyk.
Tussen toetse, take, sport en die gejaag van die skoollewe, vergeet ons soms om die mense vir wie ons lief is, te waardeer. Voicemails for Isabelle herinner ons juis daaraan dat tyd saam met familie en vriende kosbaar is – want niemand weet wat môre inhou nie.
“As jy ‘n sussie het… moet jy dalk eers ‘n boks tissues gaan haal.”
Dít is die grappie wat deesdae oral op sosiale media rondgaan. Dit wys net hoe diep hierdie storie jou emosioneel raak.
Die fliek volg ‘n jong bakker wat steeds stemboodskappe stuur na haar oorlede suster se ou selfoonnommer. Vir haar is dit ‘n manier om haar hartseer te verwerk en steeds met haar sussie te praat. Wat sy egter nie weet nie, is dat die nommer intussen aan iemand anders behoort. Die nuwe eienaar luister na elke boodskap… en raak onverwags verlief op die meisie agter die stem.
Hoewel dit soos ‘n romantiese verhaal klink, is dit soveel meer. Dit gaan oor verlies, familie, genesing en die ongelooflike krag van liefde – nie net romantiese liefde nie, maar ook die liefde tussen susters.
As leerders leef ons dikwels so vinnig dat ons vergeet om vir iemand te sê: “Ek waardeer jou,” of “Ek is lief vir jou.” Voicemails for Isabelle herinner ons daaraan om nie dinge uit te stel nie, om mekaar te koester en om die mense wat vandag deel van ons lewens is, nooit as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Van die eerste stemboodskap af trek die fliek jou in. Jy lag, glimlag en huil saam met die karakters, en teen die einde besef jy dat sommige stories nie net vermaak nie – hulle laat jou anders na jou eie lewe kyk.
Voicemails for Isabelle is nie net ‘n fliek nie; dit is ‘n herinnering om elke oomblik saam met jou geliefdes te waardeer.



0 Comments