20 000 vrouens staan saam voor die Uniegebou. Hulle kyk afwagtend na hulle vier leiers, waarvan een ’n meisie is wat skaars agttien jaar oud is. Maar Sophia Williams het trots gestaan tussen Helen Joseph, Lilian Ngoyi en Rahima Moosa. Dié historiese optog was om protes aan te teken teen die Apartheidsregering se onderdrukkende paswette, waardeur swart mense se bewegings drasties ingeperk is.
Saam het dié vier vroue 14 000 petisies (meer as 100 000 handtekeninge) voor die Eerste Minister, JG Strijdom, se kantoordeure gelos. Vir ‘n volle halfuur het die vroue in die optog in absolute stilte gestaan, om hiermee hulle solidariteit, stille krag, en voorneme om vreedsaam te protesteer, te toon. Tóé eers het die stemme opgeklink, en soveel te meer ’n impak gemaak:
“Wathint’ Abafazi Wathint’ imbokodo!”
“You strike a woman, you strike a rock!”
“As jy die vrou slaan, slaan jy ‘n rots! ”
Dié woorde sou die voorbeeld wees vir alle Suid-Afrikaanse vroue ná hulle. Vroue wat kan, vroue wat wil, vroue wat waag.
Moet nooit die krag van vroue wat saamstaan onderskat nie.



0 Comments