Om as een van JF se hoofleiers gekies te word, is ’n massiewe voorreg! In graad 8 sou ek nooit in ’n duisend jaar gedink het dat ek so ’n groot mylpaal in my lewe sou bereik nie … Die rol van ’n hoofleier is baie stresvol en verg baie harde werk en toewyding, maar ek doen dit enige dag as dit beteken dat ek ’n positiewe verskil in JF kan maak!
Ek sien uit na hierdie jaar saam my mede-hoofleiers. Ek glo ons gaan mekaar baie ondersteun en saam groei as mense en individue. As ek iets kan nalaat by JF, sal dit ’n gevoel van eenheid en trots onder die leerders van die skool wees. Enige iemand wat my ken of my al gehoor het langs die sportveld, sal weet hoe lief vir en trots op die skool ek is. Ek wil daai gevoel van trots wat ek het by my medeleerders kweek vir generasies om te kom.
JF het vir my ’n veilige hawe gebied, waar ek vriende gevind het (wat nou al meer soos familie voel) en op wie ek altyd kan staatmaak om daar te wees vir my, al raak die lewe hoe moeilik. Dis die rede waarom ek ‘n groter gevoel van eenheid in JF wil skep. Selfs die nuwe graadaggies moet besef dat hulle ’n plekkie hier in JF het, en al voel hulle hoe alleen, wil ek hê dat hulle net moet aanhou bid en op God vertrou, want Hy sal die regte mense oor hulle pad stuur… Partykeer is dit iemand reg onder jou neus, soos die persoon wat langs jou in jou bio-klas sit, of die persoon saam met wie jy al van kleinskooltjie af kom. Hou op soek en vertrou dat die Here jou sal lei.
Ek sien baie uit daarna om saam met die graadaggies tyd deur te bring dat ek hulle uit my foute en ervaring kan help om hulle voete hier by ons te vind. Dit is my grootste droom en doel hier by JF. Ek is baie passievol oor JF, en sien baie daarna uit om hierdie termyn aan te pak, ongeag van wat na my kant toe gegooi word.



0 Comments