Dis Dinsdagoggend, en ’n jong onderwyseres glip haastig deur die skoolhek; denimbaadjie oor ’n netjiese rokkie, koffiebeker in die een hand en ’n register vol lewensverhale in die ander. ’n Jongman loop vol selfvertroue oor die sportveld. Fluitjie om die nek. Hulle lyk soos een van ons; dalk net ’n paar jaar ouer as die matrieks vir wie hulle klasgee – en dis juis hier waar ons vrae begin.
Want ons wil weet: Wie is hierdie jong onderwysers wat nou Juffrou en Meneer genoem word, maar nog gister dalk self in ’n skoolbank gesit het? En belangriker: Is die onderwys vir hulle net ’n werk – of ’n roeping?
Die nuwe gesigte bring vars energie, nuwe tegnieke en “memes” in lesse. Ons sien dit. Ons hoor dit. Maar agter die energieke glimlagte en PowerPoint-aanbiedings wonder ons ook: Sien hulle ons werklik raak? Verstaan hulle die gewig van hulle vak, die impak van ’n terughou-punt? Of is dit soms net nog ’n dag op nog ’n dag 4-rooster? ’n Geleentheid om hul merk op die rugbyveld of die netbalbaan te maak?
Want wat beteken dit vir ’n graad 12-leerder wat nog skool toe stap met rou wonde van die lewe, as hul onderwyser self nog worstel met wie hulle is?
’n Gesonde skoolgemeenskap word nie gebou op net pouses en punte nie, maar op mense wat hul werk met integriteit en insig doen.
Aan ons jong onderwysers: Ons sien julle. Ons verwelkom julle. Maar ons verwag ook van julle. Nie net ink op papier nie – maar passie in lesse. Wees nie net “cool” nie, wees konsekwent. Wees nie net sosiaal nie, wees sensitief. Wees bereid om ons “dom vrae” aan te hoor sonder om te frons; om leiding te gee sonder om te preek.
Dis ’n nuwe era – kom ons bou dit saam. Met vrae, met waarheid, met respek. En met die hoop dat ons mekaar in die proses mensliker maak.



0 Comments