By JF is die onderwysers altyd besig om die ekstra myl te stap of om te werk tot hulle die kromme note haal. Maar ek het onlangs ’n paar vrae aan die JF-onnies gerig… en uit hul antwoorde is dit duidelik dat daar ook plek vir die liefde is!
Eerste het ek by juffrou Millie van Wyk gaan inloer. Sy is gevra om haar eerste soen op ’n skaal van een tot tien te beoordeel. Ongelukkig beoordeel sy haar eerste soen met ’n nul uit tien, want sy kon dit nie onthou nie. (Duidelik was Wiskunde die enigste ding op juffrou Millie se brein!)
Daarna het ek vir juffrou Nerine Truscott gevra wat sy dink van die gesegde “Liefde met die eerste oogopslag.” Juffrou Nerine se antwoord was dat sy nie glo in liefde met die eerste oogopslag nie. Met die eerste oogopslag weet jy nie wat die persoon se waardes is nie. Hulle karakter en persoonlikheid is steeds vir jou onbekend. Jy kán dalk fisies aangetrokke wees met die eerste oogopslag, maar ’n mens kan eers lief vir iemand wees wanneer jy die persoon se hart ken.
Hierdie antwoord het behoorlik aan my hart se snare getokkel!
Meneer Jacques van der Merwe is gevra om sy beste “pick-up line” te gee. Hy het sommer vinnig-vinnig aan een gedink. “Maak jou oë toe,… Wat sien jy? (niks) Dit is jou lewe sonder my!” (Ek dink die JF-manne kan ’n paar wenke by meneer Jacques kry, want lyk my meneer Jacques is ’n gesaghebbende bron op die liefde!)
Ek het nog altyd gewonder hoe meneer Wilken sy vrou (juffrou Wilken) se hart gewen het, maar toe ek vir juffrou Wilken vir háár beste “pick-up line” vra, het ek my antwoord gekry. “They say nothing lasts forever, so will you be my nothing?” (Romanties … Geen wonder meneer Wilken is smoorverlief op haar nie!)
JF-onderwysers is meer as net onderwysers; hulle is mense met die grootse harte, nie net vir hul geliefdes nie, maar ook vir Jim Fouché en sy leerders!
0 Comments