JF OESTER

WELKOM TERUG JF

Jan 24, 2025

Berig Deur JF Oester

Die skooljaar het uiteindelik begin en daar lê hope avonture voor jou uitgestrek.  Daar gaan wel struikelblokke oor jou pad kom, maar met jou JF-familie agter jou gaan niks jou kan keer om die jaar voluit aan te pak nie.

Soos jy op die stoepe loop, is daar ‘n mengelmoes van emosies … Party leerders gesels opgewonde oor wat hulle die vakansie gedoen het en ander kla oor die klomp dubbel wiskundeperiodes wat voorlê.  Maar die vrolike energie wat onder die kinders heers, is aansteeklik, en die seevakansies is gou vergete.  Wat ‘n voorreg is dit tog nie om terug te wees nie.  Na ‘n welverdiende ruskans kan al die leerders weer volstoom aan die werk spring in die klaskamers en op die sportvelde.

Luister na goeie raad… Moenie die jaar om wens nie. Voor jy jou oë uitvee, skryf jy jou laaste vraestel van die jaar en wens jy dat jy die tyd kan terugdraai na daardie een pouse waar jy en jou vriende nie kon ophou lag oor wat in die Afrikaansklas gebeur het nie.  Leef dus in elke oomblik asof dit jou laaste is, want jy gaan nie vir altyd op hoërskool wees nie.

Daar is nie ‘n plaasvervanger vir harde werk nie, en harde werk word altyd beloon.  Kry jou ingesteldheid reg vir ‘n jaar van harde werk en absolute deursettingsvermoë… Jy gaan nie spyt wees nie.

Wat jy saai, sal jy oes; so maak seker dat jy goed saai vroeg hierdie jaar.  Speel met elke wedstryd jou hart uit sodat jy met ‘n geruste hart van die veld kan afstap met die wete dat dit al is wat dit vat om jou skool trots te maak.  Party dae gaan jou skooltas swaar wees, en die periodes gaan oneindig lank voel, maar aanhouer wen, so moet dus nooit moed opgee nie. Byt vas.

Almal struikel af en toe, maar wat tel, is hoe jy opstaan.  Gaan jy dié jaar die ekstra myl stap of gaan jy bly staan waar jy is en kyk hoe almal jou verbysteek?  Die keuse is joune.  Alhoewel die eerste dag van die skooljaar ‘n bittersoet dag is, loop die leerders met ‘n gevoel van vreugde en afwagting terwyl hulle wissel.  Hier by Jim Fouché is daar ’n avontuur om elke hoek en draai.  Die keuse of jy dié avontuur gaan meemaak, bly egter joune …

Karli Botha

 

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.