Daar is so baie dinge in die lewe wat moeilik is om te sê, maar min so moeilik soos die woord “totsiens.”
In die afgelope tyd moes soveel mense vir oom André Grobbelaar, by die Voortrekkers baie meer bekend as oom Botter, koebaai sê. ’n Goeie man, pa, broer, vriend, kollega en geliefde Voortrekker-offisier – dis wat hy vir verskeie mense was voordat hy tragies in ‘n motorongeluk oorlede is.
Oom André het diep spore in die harte van menigte Voortrekkers getrap. Hy was die graad 10-seuns (Die Ape) se offisier en almal het hom geken as die grapjas van die jaar, maar altyd vriendelik en ywerig om te help. Hy het so baie vir soveel mense beteken.
Nie net was oom André ‘n wonderlike toevoeging tot die Voortrekkers nie, maar ook ’n geliefde familieman. Hy en sy vrou, tannie Ronel Grobbelaar, was saam by die Voortrekkers betrokke gewees en hy was altyd daar om haar en sy dogter – Leandré Grobbelaar (Graad 11) – te ondersteun.
Almal wat hom geken het, sal daarvan kan getuig dat hy so lief vir sy familie was, en ons innige meegevoel gaan aan almal wat geraak is deur sy afsterwe. Oom André sal altyd onthou word as die vriendelike, goedhartige en ongelooflike snaakse mens wat ons almal se harte bly gemaak het.
Rus sag, oom Botter. Ons mis jou al reeds.
0 Comments