JF OESTER

Hulle weet nou wat ons weet – Opedag 2024

Mar 13, 2024

Berig Deur Twané Meyer

Berig deur: TWANE MEYER
Foto: Joané Kietsman

Ons Jim Fouché-familie het op Vrydag 8 Maart laerskole regoor die stad genooi om ‘n bietjie vir ons te kom kuier.

Die graad 8- tot 10-leerders van Jim Fouché het die laerskole by die hoofpawiljoen ontvang en vir hulle gewys dat ons dié skool met gees is! Terwyl hulle ‘n ‘toer om ons skool gevat het,’ het die graad 11- en 12-leerders hulle in die saal ingewag, waar hulle saam met die Teambo-span geraas gemaak het. Ons kan definitief sê dat ons almal se litte lekker los gemaak is en ons ritme bietjie getoets is! ’n Eksperiment is daarna in die saal uitgevoer, wat definitief ’n paar leerders hoër as die boks self laat spring het!

Die amptelike verwelkoming en opening is deur ons hoof- en onderhoofleiers waargeneem. Daarna het meneer Wilken die verhoog met trots bestyg, ’n bietjie meer van ons skool vertel en met al ons mooi prestasies gespog: van elke wedstryd wat gewen is, elke medalje wat uitgedeel is, akademiese toekenning wat behaal is, en bowenal, van die toewyding, bloed en sweet, wat nodig was om hierdie drome waar te maak.

Sweet Caroline, wat nou al ’n tradisie geword het hier by Jim Fouché, is uit volle bors gesing deur die hele skoolsaal. Daarna het die voorstelling van elke sportsoort en kultuuraktiwiteit plaasgevind. Die JF akkers het ook vir ons n paar ‘moves’ kom gooi en die goue stemme van die Bellissima-groep het vir hoendervleis gesorg!

Meneer Wilken moes ook toe natuurlik sy “dad joke” met ons deel: “Wat is die voordele van getroud wees met ’n bokser? Hy lyk anders na elke fight.” Op hierdie noot het ons rasieleiers van 2024 die saal binnegekom met hulle ikoniese Dricus du Plessis-uitrustings en ons weereens kom wys presies net wié gees het!

En hiermee het die “advertensieflits” (soos meneer Wilken dit stel) tot ’n einde gekom, en baie tevrede (en opgewonde!) graadsewes het teruggekeer na hul onderskeie skole.

Hoërskool Jim Fouché nooi nou alle ouers en toekomstige JF’ers weer uit om ons op 15 April 2024 vir die Ouerinligtingsaand te kom besoek.

Kurt Darren sing in sy enkelsnit: “Hulle weet nie wat ons weet nie,” maar Bloemfontein se graadsewes weet nou beslis wat ons weet!

Ons as ‘n JF-familie kan nie wag om julle met ope arms in 2025 te ontvang nie!

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.