JF OESTER

Onnie met ‘n goue hart

Feb 24, 2023

Berig Deur JF Oester
Juffrou Nadia en haar man

Dit is ’n voorreg om die nuwe onderwyser, juffrou Nadia Weldhagen, by ons te verwelkom.

Juffrou Nadia, wat Wiskunde Geletterdheid aanbied, gee al vir 3 jaar skool. Dié groot liefde en passie het al begin toe sy ’n klein dogtertjie was. Sy onthou uit haar kinderjare dat sy en haar sussie altyd juffrou-juffrou gespeel het met een van haar Kersgeskenke – ’n swartbord en bordkryt. Dit is ’n duidelike teken dat die onderwysbloed lank reeds deur haar are bruis!

Haar gunstelingsport is hokkie. Sy beoefen dit al van graad 1 af, en het selfs op Universiteit hokkie gespeel. Tog moet ’n mens nie van rugby vergeet nie – ook hierdie sport het ’n sagte plekkie in haar hart. Juffrou Nadia ondersteun die Leeus, veral omdat haar pa volgens haar seker die vurigste Leeus-ondersteuner in die land is en dit later maar net aan haar afgesmeer het. Sy sal egter darem vir die Cheetahs skree as die Leeus en die Cheetahs nie teen mekaar speel nie!

Hoewel sy sport verkies, het kultuur tog ook ’n rol in haar lewe gespeel. Sy was in haar jonger dae ’n Vorie by die Voortrekkers.

“So het elke sport en kultuur maar sy eie rol in my lewe wat spesiaal op sy eie is.”

Juffrou Nadia was ’n nooi Van Staden voordat sy met haar ridder,Tiaan Weldhagen, getroud is. Hulle is  verlede jaar Maart getroud. Hierdie liefde blom al van skool af toe hulle einde graadagt ontmoet het en sedertien onafskeidbaar is.

Juffrou Weldhagen se ervaring van JF is tot dusver net positief. Sy het in Jacobsdal gebly, maar haar man hier in Bloemfontein, toe soek sy maar nader werk.

“Ek eindig toe by dié ongelooflike skool en sal ewig dankbaar vir die voorreg wees! Almal is so vriendelik en het my so vinnig laat tuis voel. My are pomp vir seker al reeds grasgroen bloed!”

“Trust the process,” is haar lewensfilosofie. Sy leef elke dag met die versie van Jeremia 29:11 wat sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ’n toekoms gee; ‘n verwagting!”

Ná my onderhoud met haar, besef ek dis veral haar sin vir humor wat haar so vreeslik oulik en vrolik maak, en ons hier by JF sien uit na al die jare wat saam met juffrou Nadia vir ons voorlê.

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.